Saturday 17 September 2016

Kry dié boek - Vrouekeur 50 Hekelpatrone

Ek is mal daaroor dat die oplewing in hekel ook beteken dat daar 'n oplewing in die hekelboekbedryf beteken!  Elke nou en dan val 'n nuwe hekelboek op my rak, waarvan Vrouekeur s'n die mees onlangse is. 


Vrouekeur 50 Hekelpatrone

Vrouekeur is bekend vir die hekel- en breipatrone wat gereeld in die tydskrif verskyn, asook die klein hekel- en breiboekies wat die afgelope paar jaar verskyn het.  Hierdie boek is 'n welkome byvoeging en het 'n lekker verskeidenheid om uit te kies.  

Baie hekelboeke het 'n afdeling voor of aan die einde met 'n verduideling van a) hoe om te hekel en b) 'n verskeidenheid steke.  Dit regverdig (myns insiens) eintlik 'n boek op sy eie omdat dit waardevolle patroonplek in beslag neem.   Hier het Vrouekeur reg gedoen en gebruik slegs een bladsy vir patroonafkortings met kort verduidelikings.  Die patrone het elk 'n duidelike, groot kleurfoto, met ekstra inligting of wenke waar nodig.   

Die boek is verdeel in vyf afdelings: Hoedjies, Skoentjies, Dogtertjies, Vrouetruie en Komberse - baie duidelik pienk en vroulik. En hoewel ek nou nie regtig in die skoentjie/dogtertjie-mark val nie, is daar wel mooi patrone in wat ek definitief sal maak!


...die volgende babatjie in my groter vriendekring kry dalk so hasiehoed. Of die padda op bl 11!

 Of die harlekyn...of die katjie...hei, wat van Pippelotta!

Die Skoentjie-afdeling begin met 'n nuttige gids tot verskillende groottes skoensole, wat dan gebruik kan word vir die verskillende patrone: plakkies, sandaaltjies, verskillende tipes sokkies en moccasins.

My belangstelling lê by die Kombersafdeling, waar daar regtig heelwat mooies is.  Ek het sommer vinnig blokkie B van die Nostalgie-kombers probeer :


Een proefblokkie - effens aangepas


Patroonlees kan moeilik raak: baie afkortings en baie rondtes raak besig op 'n bladsy, maar die patrone is eenvoudig en maklik beskryf.  Ek hou van diagramme, wat hierdie boek ongelukkig nie het nie, maar sommige patrone het wel 'n uitlegdiagram. 

Tussen die 55 patrone sal daar definitief genoeg wees om die gemiddelde hekelaar gelukkig te hou, veral iemand wat baba/kinderkleertjies maak.

2 comments:

Anonymous said...

That's what is so wonderfull at this language. It's far, far from my home, but I can read it! I am Dutch. It is going slow. But I can read it!

hobbyloes said...

Wat een mooi boek, daar ga je vast veel uit haken.
De baby muts is super leuk!